Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS VIR SONDAG 24 MAART 2019

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag nuus bulletins in Afrikaans sowel as Engels om 08:15 en 08:30 Sentraal Afrika Tyd onderskeidelik uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Hierdie uitsendings word ook via Echolink herlei deur ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se web tuiste. ‘n Oudio opname sowel as ‘n teks weergawe kan van die Liga se webblad, www.sarl.org.za, afgelaai word, en jy kan ook daar inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus, vandag:

KAN DIE WES-KAAP 'N NUWE REKORD OPSTEL?

SENTECH OM DIE BLOEMENDAL KORTGOLFSTASIE TE SLUIT

en

DIE 3Y0I DXPEDISIE SPAN VERTREK NA BOUVET EILAND (EINDE TEN LAATSTE)

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuusitems.

KAN DIE WES-KAAP 'N NUWE REKORD OPSTEL?

Kan die rekord wat in Pretoria by die 2018 Algemene-jaarvergadering opgestel is, verbeter word in 2019 deur Stellenbosch? Kan die Wes-Kaap 'n nuwe bywoning rekord vir die Algemene-jaarvergadering stel? Daar was 351 lede, bestaande uit 244 gevolmagtigdes en 107 lede teenwoordig by die 2018 AJV. Dit was die tweede hoogste bywoning syfer sedert 2005. Vul in en dien jou registrasievorm in of vul 'n volmagvorm in. Beide is beskikbaar op die voorblad van die Liga-webblad. Doen dit, ons daag jou uit!

In Reëls 10.1 en 11.1 van die Reëls van die SARL, sal jy inligting oor die algemene jaarvergadering vind. Reël 6.3 van die Grondwet en Reël 11.7 van die Reëls vertel ons dat 'n 15% kworum nodig is om die Grondwet en Reëls te verander en dat 'n 10% kworum nodig is om ander sake op 'n algemene jaarvergadering te verrig. As die aantal lede geregistreer op die oggend van die algemene jaarvergadering minder as tien persent is van die totale aantal lede wat geregtig is om te stem, het ons nie 'n algemene jaarvergadering nie, maar eerder 'n byeenkoms van Liga-lede .

Hoekom benodig ons 'n kworum van minstens tien persent van die totale aantal lede wat geregtig is om te stem? Omdat die Algemene Jaarvergadering die notule van enige vorige algemene vergadering moet goedkeur of andersins moet wysig; die jaarverslag van die Raad ontvang; die geouditeerde rekening van inkomste en uitgawes en balansstaat van die Liga soos aan die einde van die finansiële jaar en die ouditeursverslag, indien enige, tesame met ongeouditeerde tussentydse rekeninge van inkomste en uitgawes en balansstaat soos op 31 Desember ontvang en oorweeg; 'n begroting vir die daaropvolgende jaar ontvang; 'n ouditeur vir die daaropvolgende jaar kies; die ledegelde vir die volgende jaar aanvaar en enige intra vires mosies waarvan die nodige kennisgewing gegee is oorweeg.

As daar geen kworum teenwoordig is nie, is daar geen Algemene-jaarvergadering nie en die bogenoemde punte kan nie hanteer word nie. Dit is dus van uiterste belang dat jy as 'n Lige-lid persoonlik die algemene jaarvergadering bywoon of jou volmag stem aan 'n lid gee wat bywoon.

DIE SARL TOEKENNINGSDINEE

Die lokaal vir die 2019 SARL Toekenningsdinee is by die Devonvale Gholflandgoed in Bottelaryweg in Stellenbosch. Die gasspreker is Sias Mostert, die voorsitter van die SCS Aerospace Groep. Daar is nog 19 sitplekke beskikbaar vir die toekenningsdinee, gebruik dieselfde registrasievorm as vir die AJV en bespreek 'n plek vir die dinee.

ONTSLUIT AMATEUR RADIO TEGNOLOGIE SIMPOSIUM 'N ANDER GEBEURTENIS OM BY TE WOON

Die SARL Ontsluit Amateur Radio Tegnologie Simposium word om 13:00 SAT op Vrydag 12 April in Stellenbosch aangebied. As jy jou amateur radio-ervaring na 'n hoër vlak wil neem, dan is dit 'n geleentheid wat nie gemis moet word nie. Slegs 50 sitplekke is beskikbaar vir SARL-lede teen die afslagprys van R250. Nadat die eerste 50 sitplekke bespreek is, sal meer sitplekke beskikbaar wees teen R700 elk. Nie-lede kwalifiseer nie vir die afslag tarief nie, maar kan teen R700 registreer.

Sommige van die onderwerpe wat in die program ingesluit word, is: die BHF omgekeerde herhaler baken netwerk, WSPR werking en hoe hierdie ontwikkeling vorder na FT8, die Weskus voortplanting verskynsels, Sagteware gedefinieerde radio, Amateur Radio se eerste geostasionêre satelliet, OSCAR 100 en hoe jy op 'n klein begroting betrokke kan raak en hoe lae koste dongles jou rekenaar of skootrekenaar kan verander in 'n meervoudige frekwensie ontvanger. Volledige besonderhede en 'n registrasievorm is beskikbaar op www.sarl.org.za.

AMSAT SA RUIMTE SIMPOSIUM 'N GROOT SUKSES

Die AMSAT SA Ruimte Simposium van verlede naweek was 'n groot sukses met goeie bywoning, insluitend afgevaardigdes van Namibië, Kaapstad en Pietermaritzburg. Die konferensie het aanbiedings en demonstrasies aangebied wat 'n wye spektrum van amateur radio-aktiwiteite dek. Die referate sal vanaf volgende naweek beskikbaar wees op www.amsatsa.org.za.

Jy luister na ʼn nuus uitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga
SENTECH OM DIE BLOEMENDAL KORTGOLFSTASIE TE SLUIT

Sentech sal sy Bloemendal Kortgolf Uitsaai-stasie op 30 Maart sluit, wat beteken dat vandag se Amateur Radio Today die laaste program sal wees wat op die 7 en 17 MHz-uitsaai-bande uitgesaai sal word. Amateur Radio Today sal egter steeds beskikbaar wees op 7 082 kHz vanaf Durban en op baie herhalers rondom Suid-Afrika en van die SARL-tuisblad op www.sarl.org.za.

Sentech het Suid-Afrika se Bloemendal-kortgolf radiostasie naby Meyerton geërf toe Radio RSA gesluit is. Radio RSA het op 1 Mei 1966 begin uitsaai en teen 1976 het die stasie 36 uur per week in twaalf tale uitgesaai, waaronder Engels, Frans, Portugees en Afrikaans. Dié diens is in 1992 gestaak. Die enigste uitsending wat die sluiting oorleef het, was 'n uitsending in Afrika, wat Channel Africa genoem is. Die SAUK saai ook Radio Sonder Grense (RSG) op kortgolf na die Noord-Kaap uit. Sentech het ook die borgskap van Amateur Radio Today oorgeneem.

Om die dekking op HF in die Suider-Afrikaanse gebied te verhoog, is die SARL op soek na die uitsaai van die program op 7 MHz vanaf meer plekke soos die Wes-Kaap, die Vrystaat en Gauteng om die uitsending van 7 082 kHz deur Louis, ZS5LP van Durban, te komplimenteer. Die frekwensies wat oorweeg word, is in die band tussen 7 100 en 7 200 kHz. Op Maandagaande word 80 meter ook oorweeg. Radio-amateurs wat bereid is om hul dienste op Sondae om 10:00 SAT en/of op Maandagaande op 80 meter te aanbied, word uitgenooi om hul kontakbesonderhede aan artoday@sarl.org.za te stuur.

Die SARL kon nie hierdie aankondiging vroeër maak nie, aangesien Sentech nie hul beplande sluiting kon bevestig nie en het die SARL versoek om die sluiting nie vroeër aan te kondig nie.

HET JY JOU SARL HEMP BESTEL?

Die kortmouhemp kos R345-00 terwyl die langmouhemp R380-00 kos, die SARL-logo is geborduur op beide hemde. 'n Naamplaatjie is beskikbaar teen R55-00. Foto's van die hemde en die naamplaatjie kan op die SARL-forum en die SARL Facebook-bladsy gesien word.

Bestel as volg: stuur 'n e-pos aan zs6lme@gmail.com en bevestig hoeveel kort of langmou hemde bestel word en dui aan of jy 'n naamplaatjie wil hê. Bevestig jou naaste POSTNET adres vir aflewering - kos R100-00 ekstra. Betaal die korrekte bedrag in die volgende rekening - Erasmus Ing Trust-rekening by ABSA, rekeningnommer 40 4947 8830 en in die verwysing: B52 plus jou roepsein. Aflewering is ongeveer 3 weke na ontvangs van die betaling. As jy nou bestel, kan jy op 12 en 13 April jou hemp by die 2019 Dag van die Radio Amateur in Stellenbosch afhaal.

DIE 3Y0I DXPEDISIE SPAN VERTREK NA BOUVET EILAND

Die 3Y0I Bouvet Eiland DXpedisie-webwerf het aangekondig dat die span van operateurs, onder leiding van Poolse DXpeditioner Dom Grzyb, 3Z9DX op 19 Maart van Kaapstad na die afgeleë Antarktiese eiland op die MV Atlantiese Tuna vertrek het. Party sal sê, dis hoog tyd!

As alles goed gaan, behoort die span Bouvet ongeveer 26 Maart te bereik. Landing op die eiland sal streng afhang van die weerstoestande wat by aankoms gevind word. Die span hoop om teen die einde van Maart op die lug te wees, maar dit is onderworpe aan veranderinge weens die vaagheid van see- en weerstoestande. Die span beplan om ten minste vir 2 weke op die eiland te bly, met die opsie om die verblyf tot 3 - 4 weke te verleng, as die weer en ander faktore dit toelaat. 3Y0I sal poog om 'n werkbare sein op 160 en 80 meter in die uitdagende Bouvet eiland omgewing uit te sit. Die hoë-volume bande word verwag om 20, 30 en 40 meter te wees.

UITSLAE VAN DIE SARL JD NAELLOOP

Die kompetisie komitee het ses logstate ontvang vir die SARL JD Naelloop gehou op Saterdag 9 Maart

1ste Karin Andrews, ZS6MMA - 96 punte
2de Clarissa Clark, ZS6LIS - 70 punte
3de Simone Jones, ZS6SIM - 62 punte
4de Valerie Wagner, ZS5VAL - 55 punte
5de Heather Holland, ZS5YH - 18 punte
6de Roy Walsh, ZS3RW - 14 punte.

BAIE AKTIWITEIT TYDENS DIE SARL 80 M KLUB NAELLOOP

Die 80 m-band was Woensdagaand aktief met stasies wat CQ-kompetisie geroep het. Die volgende 80 m Klub Naelloop vind plaas op Woensdag 15 Mei 2019. Die kompetisie komitee het tot dusver 25 logstate ontvang. Die sluitingsdatum vir indiening is middernag op Woensdag 27 Maart en stuur dit na zs4bfn@mweb.co.za. Jou logstaat moet "my roepsein 80 m Klub Naelloop” as titel hê. Die Excel-logstaat kan afgelaai word vanaf die ‘Contest’ blad op www.sarl.org.za.

Ten slotte, 'n dagboek van sommige komende gebeure:

26 Maart - die sluitingsdatum vir jou artikel vir die April Radio ZS.
30 en 31 Maart - die CQ WPX ESB-kompetisie.
1 April - die sluitingsdatum vir BHF/UHF Analoog logstate.
2 April - die Provinsiale skole open.
4 April - die SARL 80 m QSO Geselligheid.
6 April - die RaDAR Uitdaging en die Pretoria ARK snuffelmark.
6 en 7 April - die SARL BHF/UHF Digitale kompetisie.
12 April - die SARL Ontsluit Amateur Radio Tegnologie Simposium.
13 April - die SARL AJV en Toekenningsdinee.
18 April - Wêreld Amateur Radio Dag.

Om die bulletin mee af te sluit, ‘n opsomming van ons hoof berig:

Kan die rekord wat in Pretoria by die 2018 Algemene-jaarvergadering opgestel is, verbeter word in 2019 deur Stellenbosch? Kan die Wes-Kaap 'n nuwe bywoning rekord vir die Algemene-jaarvergadering stel? Daar was 351 lede, bestaande uit 244 gevolmagtigdes en 107 lede teenwoordig by die 2018 AJV. Dit was die tweede hoogste bywoning syfer sedert 2005. Vul in en dien jou registrasievorm in of vul 'n volmagvorm in. Beide is beskikbaar op die voorblad van die Liga-webblad. Onthou om ook vir die Toekenningsdinee te bespreek.

Dit bring ons aan die einde van hierdie bulletin.

Die Suid-Afrikaanse Radioliga se nuusdiens nooi klubs en individue uit om nuus brokkies van belang vir radio amateurs en kortgolf luisteraars in te dien. Plaas nuus berigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radioliga webtuiste onder die 'news inbox' skakel nie later as die Donderdag wat die bulletin datum voorafgaan nie.

Luister elke Sondagoggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 Sentraal Afrika Tyd op 4 895 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou seinrapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateur frekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusbulletin saamgestel deur Dennis Green, ZS4BS en gelees deur ..............

Vanaf die Nuusspan, beste wense vir die week wat voorlê.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003